'n LEWENSREIS MET JANNIE

So een en ander oor dit wat Jannie se lewenspad gekruis het.

Johannes Hendrik (Jannie) du Toit word op 13 Desember in Heidelberg, Transvaal (nou Mpumalanga), gebore.

Jannie begin klavierlesse neem, 'n tweede onderwyseres op Balfour probeer later ook.

Jannie kry 'n goue diploma vir sang by Balfour se Kunswedstryd.

Grootvlei Laerskool kry 'n koor. Jannie sing sy eie wysie.

Jannie se ouers trek van die platteland na Menlopark, waar mnr Izak Loots ook sy bes probeer met die klavierlesse.

Mnr Loots gee op met Jannie. Jannie kry 'n kitaar en speel in 'n skoolrevue met twee standerd nege-meisies, Jana Cilliers en Annette du Plessis, as regisseurs.

Jannie speel in die skoolband kitaar en klavier en hy sing.

Jannie is in die Lugmaggimnasium. Hy leer Beatle-akkoorde uit 'n boek.

Jannie begin Regte studeer op RAU. Hy speel kitaar en sing in 'n universiteitsband STERAU. Hy ontmoet ook vir Morg Jacobs in Dromedaris Manskoshuis. Morg het reeds in 1969 sy eerste Afrikaanse liedjie geskryf - 'n toonsetting van Leipoldt se BOGGOM EN VOERTSEK.

Jannie skryf sy eerste Afrikaanse liedjie - 'n toonsetting van AG Visser se "ROSA ROSARUM"

Morg en Jannie begin saam met Andy Lubbe en Clive Doubell die folk-groep TRILOGIE. Hulle word die eerste keer op die radio-program STUDENTEVARIA gehoor.

TRILOGIE reik hulle eerste solus-sewe plaat getitel ANITALIEF uit, en verskyn op die proefuitsendings van Suid-Afrika se eerste televisiekanaal. DROOM (LANGS STILLE WATERS) TRILOGIE se tweede "single", die enigste Afrikaanse inskrywing uit ongeveer 'n honderd uit Suid-Afrika, kry 'n honorary mention-prys in die AMERICAN SONG FESTIVAL, en is die enigste Suid-Afrikaanse inskrywing wat dit so ver bring. TRILOGIE haal weer die eindronde van CRESCENDO.

TRILOGIE gaan uitmekaar as gevolg van die feit dat Andy na Nelspruit, en Morg na Amanzimtoti verhuis. Dobbel en Jannie speel in nog 'n paar bands terwyl hulle nog albei in Johannesburg woon. Jannie voltooi sy LLB by RAU. Hy hoor die STELLENBOSSE UNIVERSITEITSKOOR onder leiding van oom Phillip Mac Lachlan, en word summier bekeer tot a capella koorsang - iets waarin hy nooit vantevore belang gestel het nie.

Jannie werk vanaf 1 Januarie tot einde Junie as aanklaer in Johannesburg. Hy skryf 'N LIEDJIE VIR JOU in die tyd. Van 1 Julie doen hy sy articles by die Staatsprokureur in Pretoria. Hy begin in November in die AD LIBITUM-koor onder leiding van Kobus de Witt sing, waar hy vir Ansa ontmoet met wie hy later sou trou, en wat die regië van talle van sy produksies hanteer het.

Rosa Keet kontak Jannie vir die eerste MUSIEK EN LIRIEK-konsert in die LAAGER van die MARKTEATER in Johannesburg as uitvloeisel van die LUISTERLIEDJIE-"beweging". Op die manier begin hy met 'n sololoopbaan. Nog twee reekse van MUSIEK EN LIRIEK volg daardie jaar saam met Laurika, Anton, Clarabelle en Louis van Rensburg.

Jannie mis 'n groot geleentheid aan die einde van daardie jaar om ook in Stellenbosch deel van die aanbieding te wees, maar dit is agv 'n Europese reis saam met AD LIBITUM. In Amsterdam hoor en koop hy die eerste keer 'n Nederlandse album: DE WONDERLIJKE AVONTUREN VAN HERMAN VAN VEEN.

Toe hy terug in Pretoria is, kry Jannie IK ZOU WEL EENS WILLEN WETEN van Jules de Corte persent, en dié twee kunstenaars se werk oefen van daardie oomblik af 'n onuitwisbare invloed op sy loopbaan uit.

Jannie neem 'N LIEDJIE VIR JOU op, en los van tyd tot tyd vir Carike Keuzenkamp af as aanbieder van KRAAINES, 'n kinderprogram op TV. Sy leerklerkskap verstryk op 19 Oktober en hy bedank twee dae later uit die regsberoep met die oog op 'n musiekloopbaan. Hy vertrek dadelik op uitnodiging van RADIO EN TV DAGBOEK om die pas geopende Tsitsikama Wandelpad te gaan uitprobeer.

Na afloop van die staptog vind hy 'n boodskap van prof. Chris Lamprecht in sy prokureurskantoor: hy word versoek om vir Tukkies met 'n ligte musiekgroep te begin. Hy besef tot vandag dat dit gebedsverhoring is.

Jannie aanvaar diens by UP, en skryf 'n revueprogram getitel LUISTER NA DIE LIEDJIES vir TUKS 80. Hy sou in die sewe jaar wat by UP goeie ervaring opdoen. Hy werk in die tyd saam met onder andere prof Anna Neethlingh-Pohl en dit word vir hom 'n leerskool wat oor die hele spektrum van musiek- en verhoogwerk strek.

Hy stel sy album 'N LIEDJIE VIR JOU op sy eie koste vry, en gebruik die verwysingsnommer JNS01, gebaseer op sy bynaam in die Latynklas op skool en ook op Universiteit: JANUS. Hierdie uitreiking lei tot die totstandkoming van JNS MUSIEK, 'n verspreider van kwaliteit Suid-Afrikaanse musiek.

In samewerking met 'n advokaat in Pretoria, Johan Kruger, begin Jannie met liedjie-aande in Pretoria by sy huis in Margaretastraat. Dit inspireer 'n klomp liedjiemakers om hulle liedjies vir 'n klein gehoor te sing. Bekende name wat daar te sien en te hoor was sluit Koos du Plessis, Janita Claassen, Coenie de Villiers, Lucas Maree, Anneli van Rooyen, Richard van der Westhuizen, en Jannie se destydse huismaat, Andy Lubbe, sowel as Morg Jacobs van TRILOGIE, in. TRUK se KERSLIG VERS EN MELODIE sou later hieruit voorstspruit.

Jannie handel sy toelatingseksamens af, en word toegelaat as prokureur.

Jannie skryf sy eerste musiekblyspel - LOELOERAAI - in samewerking met prof Anna Neethlingh-Pohl vir TUKS 83. Innes Benadé was in die titelrol, en Jannie speel Kerneels Langenhoven.

Jannie skryf sy eie musiekblyspel - GANSDANS - gebaseer op 'n tema in vyfslagmaat vir TUKS 84.

Michal Grobbelaar, Direkteur van die Johannesburgse Stadskouburg, versoek Jannie en Christa om 'n program aan te bied vir die 100-jarige bestaan van Johannesburg. So ontstaan, BLIK EN SNAAR, 'n aanbieding wat die verhaal van Afrikaanse musiek op 'n heel vermaaklike manier vertel. Hulle vergroot die groep en toer daarna dwarsdeur Suid-Afrika. 'n Volledige televisieproduksie van BLIK EN SNAAR word ook in die vroeë negentigerjare gemaak.

Jannie neem saam met Nick Taylor, Lucas Maree en Coenie de Villiers 'n huldeblyk aan Koos du Plessis op - KOOS SE PLAAT. Dit bevat slegs liedjies wat nooit deur Koos self opgeneem is nie.

Jannie en Christa is albei betrokke by die ATKV se eerste werkswinkel vir liedjieskrywers - Christa tot in 2000, Jannie net vir twee jaar en daarna weer vanaf die vroeë negentigs.

Jannie skryf sy laaste musiekblyspel, RIP, vir Tukkies, en bied dit saam met die studente aan.

Hy reik sy tweede solo-langspeelplaat uit - DRIE-UUR IN DIE MÔRE. Christa behartig sommige van die musiekverwerkings, en hy sluit haar liedjie EK WIL VIR JOU by die album in.

Jannie tree uit die diens van Tukkies, en word as organiseerder van ligte musiek by die TRUK (die Transvaalse raad vir uitvoerende kunste) aangestel. Hy neem verantwoordelikheid vir die reeds bestaande KERSLIG VERS EN MELODIE, en begin ook reekse van jazz en kabaret vir TRUK. Christa word aangestel as musiekregisseur van KERSLIG, en Jannie en Christa begin ook al hoe meer in verskillende programme saam optree. Pieter van der Westhuizen, mede-wenner van CRESCENDO in 1986, word genooi om as deel van BLIK EN SNAAR by ambassades in Europa op te tree.

Jannie word deur Stephan Bouwer genader om deel te wees van 'n "kabaretkonsert" - VAN BERLYN TOT BAPSFONTEIN - saam met Laurika Rauch, wat met groot sukses landswyd aangebied is.

Jannie verlaat die voltydse diens van TRUK, en 'n droom word uiteindelik verwesenlik om voltyds musikant te word. Hy hanteer TRUK se ligte musiek vir nog 'n paar jaar as vryskut.

Christa en Jannie word deur Thinus Jacobs, hoof van die SAL in Taipei, gevra om 'n Oujaarskonsert daar te kom aanbied. Jannie maak so kontak met RITEK, die eerste CD-vervaardiger in Suid-Oos Asië.

Suzette Eloff tree saam met Jannie en Christa op in AGTER DIE HORISON waarin onder andere Robert Long se liedjies ACHTER DE HORIZON en VADER OP EEN FIETS voorkom. Saam met Laurika doen Jannie 'n volgende kabaretkonsert van Stephan Bouwer getitel OP DIE HARTSTOG BOULEVARD. Hulle open die RENDEZVOUS - teater met die aanbieding.

Jannie reik sy album PALET uit - sy album wat die grootste mate van kommersiële sukses gehad het. Dit word vervaardig deur RITEK in Taiwan en in Suid-Afrika versprei deur JNS MUSIEK via EMI.

Hulle onderneem 'n toer deur Zimbawe.

Na die sukses van PALET begin Jannie ook ander kunstenaars help om hulle CD's op die mark te kry. Op die manier kom die maatskappy JNS MUSIEK tot stand. Christa, Lucas, Coenie, Surendran Reddy, Clarabelle, Mimi Coertse, Cutt Glas, Amanda, David Kramer, Nataniël, Herman van den Berg, Anna Davel, Lize Beekman, Wouter van de Venter en talle ander sou mettertyd (dikwels hulle eerste) CD's deur JNS versprei.

Saam met Marié du Toit bied Jannie en Christa SKADU'S TEEN DIE MUUR aan. Die program het op versoek van ds Henno Cronje van die FAK die lig gesien, en Stephan Bouwer was die samesteller en regisseur.

Jannie bekom die Suid-Afrikaanse agentskap vir RITEK, die Taiwanese CD-vervaardiger, en begin JANUS MUSIEK saam met 'n vriend uit die jare by TUKKIES, Drikus Kriek, wat teen die jaar 2000 die maatskappy oorneem, en dit steeds saam met sy vrou Carol bedryf as JANUS DATA.

SKADU'S bring 'n besoek aan Vlaandere, en het ook 'n optrede in die Kurhaus Hotel in Scheveningen, Nederland.

Jannie en Christa bied in samewerking met Ilse van Hemert 'n volledige program van Nederlandstalige musiek aan: DE KLEINE MAN.

DE KLEINE MAN en SKADU'S TEEN DIE MUUR word albei by die eerste KKNK aangebied. In die Kaap tree Anna Davel vir die eerste keer saam met hulle in SKADU'S op.

Jannie stel 'n nuwe album vry: VOLGENDE WINTER. Hulle doen saam 'n verhoogproduksie met Jannie se skoolpêl, Chris van Niekerk, as regisseur: DIE DRAAI VAN DIE EEU.

Jannie se album, GELOOF, HOOP EN LIEFDE word uitgereik. Saam met, Christa, Loretta du Toit se CANTATA KAMERKOOR asook pa en seun Andy en Murray Lubbe word dit 'n verhoogproduksie wat vir 'n paar jaar dwarsoor die land aangebied is.

Saam met Carel Trichardt, Petru Wessels, Lucas Maree en Innes en Greta Benadè bied hulle 'n spesiale Kersproduksie aan: SY STER OOR HARTENBOS

Saam met Lucas Maree bied Jannie en Christa MUSIEK EN REPLIEK: KLAS VAN '79 by die KKNK en op verskillende ander plekke aan.

Rosa Keet regisseer 'n produksie getitel BAGASIE met Jannie en Christa vir AARDKLOP.

Jannie open sy gastehuis DIE AGTERPLAAS B+B in Melville op April fool's dag.

Lizz Meiring regisseer GENERASIES GAAP NIE met Engelse popmusiek van die 20ste eeu, 'n ligte kykie na die generasiegaping, waarin Christa en Jannie dan ook saam met jonger kunstenaars optree: Sunieda de Beer, Johan Hendriksz en Wouter van de Venter.

Die STICHTING JULES DE CORTE nooi Jannie en Christa om liedjies van De Corte by 'n huldigingsaand vir die gestorwe sanger in Eindhoven uit te voer en hulle tree daarna ook in ander dele van die Lae Lande en in Londen op.

Jannie en Christa tree by UKKASIE sowel as EUROKASIE op. Hulle word ook in dieselfde jaar saam met 'n aantal SA kunstenaars genooi om deel te hê aan 'n uitruilprojek in België, en besoek daarna Kanada en die VSA vir een van die mees suksesvolle toere van hulle gesamentlike loopbaan. In België ontmoet hulle vir Charlene Truter, wat later ook in NAGKANTOOR saam met hulle sou werk.

Jannie neem sy album LEEUSPRUIT op, wat vir 'n SAMA-toekenning genomineer word.

Saam met Rouel Beukes tree Jannie en Christa op in 'n musiekteaterstuk HANDE INNIE AS, geregisseer deur Sandra Prinsloo, en met 'n teks deur Alexa Strachan. Hulle word later in die jaar na KIWIKASIE in Auckland, Nieu-Zeeland genooi, wat daartoe lei dat hulle nog 'n uiters sukses (en genot-)volle maandlange toer, die DOERONDERTOER aanpak. 950 mense woon die konsert in Auckland by - en die aand word een van die werklike hoogtepunte van hulle samewerking.

Christa inisiëer NAGKANTOOR, 'n verhoogproduksie met 'n teks van PG du Plessis en Carl Theunissen, geregisseer deur Sandra Prinsloo. Die vertoning debuteer by KKNK en word by verskillende feeste aangebied. Saam met hulle op die verhoog is Mathys Roets, Frantz Dobrowsky, Marcel van Heerden, Charlene Truter, Yolandá Strauss, Mauritz Lotz, Matthys Maree en Susan Mouton.

Agterplaas Produksies sien die lig.

Engemi Ferreira help Jannie en Christa om Jannie en die Tannie daar te stel, en die program debuteer by KKNK.

Jannie en die Tannie toer baie. Na 'n vyftigtal uiters suksesvolle optredes in Suid-Afrika besoek hulle aan die einde Kanada en die VSA vir 'n aantal optredes van Vancouver links bo tot in Fort Lauderdale regs onder in Noord-Amerika.

Jannie bereik 'n besliste hoogtepunt met die vrystelling van sy nuwe album, Diepverlange in samewerking met Maranatha. Insette word gelewer deur mede-kunstenaars, Coenie de Villiers, Chris Chameleon, en andere. Christa sorg weereens vir prag-verwerkings soos onder andere PIE JESU en GLORIA TIBI. 

Jannie en Christa het so pas elk nog 'n toekenning , naamlik 'n OSKAR vir hulle DVD van Jannie en die Tannie, tydens die Vonk musiek-toekennings ontvang. Die Vonk toekennings kan beskou word as die Suid Afrikaanse ekwivalent van die Grammy Toekenning!

Jannie en Christa toer gedurende Desember vir die soveelste keer deur die Kaapprovinsie. Hierdie keer skop hulle af in Heroldsbaai en maak `n draai in verskeie dorpe o.a. Steytlerville, Stellenbosch, en Jacobsbaai. Op die spyskaart is hulle produksies JANNIE EN DIE TANNIE asook hulle Kersprogram, KERSFEESTYD. Hulle sluit 'n suksesvolle toer af met 'n besoek aan Joubertina in die Langkloof.

Jannie en Christa ontvang gedurende die jaar verskeie toekennings en nominasies vir hulle produksies: 'n ATKV-Liertoekenning en SAMA-nominasie vir beste Afrikaanse Album, DIEPVERLANGE. In medewerking met Anna Davel, Douw Steyn en Jaci de Villiers ontvang die produksie, DAGBOEK VAN 'N SWERWER ook 'n KANNA-NOMINASIE by die KKNK- kategorie Musiekteater.

Jannie se jarelange toewyding en volgehoue bydrae tot Afrikaanse Musiek word in September vereer met 'n ERE-PENNING vir Ligte Afrikaanse Musiek, toegeken deur die SA AKADEMIE vir KUNS en WETENSKAP.

Die suksesvolle musiek-blyspel, HOUTKRUIS - DIE MUSICAL, het vir beide Christa en Jannie 'n geleentheid gebied om saam met ander kunstenaars deel te kon wees van die eerste Afrikaanse gospel-musiekspel. Dit is aangebied in die OPERA van die STAATSTEATER in Pretoria met 'n speelvak van langer as 'n maand. Christa het die musikale regie van die verhoogproduksie behartig, terwyl Jannie in die rol van die Biskop te sien was.

HARTSNAAR is die jongste produksie van Jannie en Christa waarin hulle kragte saamsnoer met vier jong kunstenaars, Mariëtte Galjaard, Douw Steyn, Hilton Oosthuizen en Werner Spies. Die tema is 'n jarelange breinkind van Jannie wat nou uiteindelik verwerklik word in die produksie HARTSNAAR. Die groep onderneem ook in Oktober 'n maandlange toer na NEDERLAND en BELGIË, as viering van 20 jaar van gereelde konserttoere deur Jannie en Christa na die Lae Lande.

HARTSNAAR debuteer by INNIBOS.

Soos altyd, het Jannie en Christa weer die land deurkruis en opnuut hulle aanhangers bekoor met hulle immergewilde produksies en geestelike optredes in talle stede en dorpe.

Verskeie KUNSTEFEESTE word ook besoek oa. die KKNK in Oudtshoorn met hulle nuutste produksie, HARTSNAAR, die Volksbladfees in Bloemfontein met Anna Davel in DAGBOEK VAN 'n SWERWER, en Pretoria se nuwe kunstefees, WOORDPOORT met JANNIE EN DIE TANNIE. GEDURENDE September tree hulle ook op by die Aardklopfees in Potchefstroom met DIE LAASTE REIS VAN GEERHARDT VAN DER LENDE, saam met goeie vriende, Pieter en Marjorie Stoffberg.

'n Hoogtepunt van die jaar was sekerlik HARTSNAAR se optrede in die Drakensbergseunsskool se produksie, MUSIC IN THE MOUNTAINS. Jannie en Christa geniet weereens die geleentheid om saam met hierdie uitgelese koor, olv. JOHAN VAN DER SANDT te kan optree.

Die jaar word afgesluit met 'n baie suksesvolle toer - HARTSNAAR MAAK 'n KAAPSE DRAAI. Verskeie dorpe in die Wes- en Ooskaap word besoek oa. Stellenbosch met 'n optrede in die Oude Libertas Amfiteater, Stilbaai, Wildernis, Hermanus, Tulbagh en Jeffreysbaai.

Jannie en Christa tree op by die WOORDFEES in Stellenbosch met hulle nuwe produksie DIE KAAP IS HOLLANDS:"... 'n bloemlesing van klank- en taalgrepe uit 'n dosyn Nederlandstalige kunstenaars se penne..."

20 jaar na hulle samewerking in "Van Berlyn tot Bapsfontein" en "Op die Hartstog Boulevard", bied LAURIKA RAUCH en JANNIE du TOIT vanaf 20 Julie tot 1 Augustus hulle splinternuwe BREL- program aan: BREL IN BROOKLYN. Twee virtuose instrumentaliste sorg vir die begeleiding nl. CHRISTA STEYN agter die pragtige Steinway-konsertvleuelklavier van die Brooklynteater, en 'n ou vriend-akkordionspeler, SERGIO ZAMPOLLI, wat sorg vir die kontinentale kleur wat onontbeerlik is by die 'chanson' Brel-liedere, in Afrikaans, Engels, Frans en Nederlands. Dit alles dra by vir 'n onvergeetlike aand van musiek met die klem op - soos Brel dit gestel het: 'die soete oorlog van die liefde."

Tydens die FIFA Wereldbeker Toernooi in Junie en Julie, huisves Jannie se AGTERPLAAS B&B verskeie oorsese sokkergeesdriftiges en media - verteenwoordigers van oraloor.

Na 40 jaar van betrokkenheid by Afrikaanse musiek, publiseer JANNIE sy musiekstorie getitel ONDERWEG in die vorm van 'n outobiografie aangevul met talle foto's, veertig klanksnitte op CD en twintig beeldgrepe op DVD. Hy beplan om die publikasie in samewerking met RAPPORT en SUN MEDIA bekend te stel met 'n landswye musiekaanbieding vanaf September 2011. Die teks vir die verhoogproduksie is deur P.G. DU PLESSIS geskryf en die regie word waargeneem deur EMMA BEKKER. CHRISTA, by die klavier, is soos altyd verantwoordelik vir die musiekverwerkings en word op die verhoog bygestaan deur die gevierde tjellis, SUSAN MOUTON. Die premiére en mediabekendstelling vind plaas op 27 September by die UNIVERSITEIT van JOHANNESBURG.

JANNIE en CHRISTA word deur die ATKV vereer vir hulle jarelange bydrae op die gebied van Afrikaanse ligte musiek en sang. Die oorkonde is oorhandig deur mnr. Japie Gouws, besturende groep direkteur van die ATKV.

Die ONDERWEGKONSERTE word in 2012 voortgesit. Jannie neem die gehoor op 'n boeiende reis van teks en musiek. Behalwe liedjies in Afrikaans, is daar ook pragtige Nederlandse liedjies en 'n skeutjie Frans en Engels by o.a van JACQUES BREL, BERTOLT BRECHT en KOOS DOEP. PG du Plessis is verantwoordelik vir die teks en Emma Bekker behartig die regie, terwyl Jannie se fyn aanvoeling vir erns, die komiese asook vir die vertolking van wyd uiteenlopende musiekgenres, hierdie aanbieding omskep in 'n anderhalfuur se genotvolle vermaak.

Die meeste van die konserte in 2012 word aangebied in samewerking met die NCPPDSA (Vereniging vir persone met fisiese gestremdhede) Daar word getrag om 'n bewustheid rondom gestremde persone en hulle behoeftes te kweek, deur voorsiening by sekere teaters te maak vir gehoorgestremdes m.b.v. 'n spesiale lussisteem. Die ONDERWEG - program is ook in Braille gedruk. In 2012 fokus die ONDERWEGTOER hoofsaaklik op kleiner dorpe om dus ook die platteland te bereik.

CLINTON ZERF, 'n briljante jong pianis, het ingewillig om sy dagboek oop te hou, en volledig op bystand te wees vir Christa tydens haar siekte. Christa het hom reeds as skoolseun geinspireer om musiek te gaan studeer en 'n musiekloopbaan te volg. Hy beskou dit dus as 'n groot eer om tydelik uit te help tydens die ONDERWEG konserte.

JANNIE word deur INNIBOSFEES vereer met 'n INNIBOS LEWENSLANGE TOEKENNING vir sy enorme jarelange bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaanse musiek.: "Dit is vir INNIBOS 'n baie groot eer om al Jannie se deugde te vereer met die INNIBOS LEWENSLANGE TOEKENNING vir 2012. Mag daar nog vele juweeltjies uit sy pen vloei waarop die Afrikaanse musiekbedryf trots kan wees."