Jannie du Toit

JANNIE EN TRILOGIE

Ek is in 1971 na die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) toe om in die regte te gaan studeer en ek was deel van die eerste “inname” van eerstejaars van die splinternuwe manskoshuis Dromedaris. Saam met my was Francois (Morg) Jacobs en Helmut (Bert) Bertelsman wat reeds senior studente was. Hulle het al ‘n paar jaar lank tweestemmig saamgesing, en ek het saam met hulle begin sing - ek kon lekker by elke liedjie ’n derde harmonie bybring, en saam kitaar speel. Ons was heel gewild op die serenade-kringloop al was daar destyds nog net twee dameskoshuise op die kampus waar ons kon gaan sêrrie. Ons het veral folk-liedjies uit die vyftiger- en sestigerjare gesing, maar so hier en daar ‘n Afrikaanse liedjie ook. Morg het toe reeds sy mooi toonsetting van Leipoldt se Boggom en Voertsek gedoen.

Alles wat met musiek te doen gehad het was in my universiteitsjare meer aantreklik as die akademie en ek het gehoor dat daar gesoek word vir ‘n sanger/kitaarspeler in die studente-orkes Sterau. Soveel moontlik benaminge by ons universiteit sou destyds die woorddeel “RAU” betrek, soos bv. die studentekoerant Heraut en die RAU-Rukke, studentedanse wat later sokkies, sessions of disco’s sou word. Van die liedjies in ons repertorium wat ek kan onthou, is “Dr Livingstone I presume” van die Moody Blues en “Kokkewiete” van Groep Twee. Toe ons die volgende jaar ’n tromspeler nodig gehad het, het ek onthou van ’n ou in Pretoria wat ek verlangs geken het Andy Lubbe. Hy het ’n wonderlike stem gehad en kon min of meer enige instrument in ’n pop/rock-groep speel. Ek het hom een Saterdag in die ou Vauxhall Cresta 3.3-liter overdrive wat ek van my pa gekoop het, in Pretoria gaan oplaai vir ons eerste repetisie saam. Op pad Johannesburg toe het ons van tyd tot tyd ’n kloppende geluid gehoor, gestop en niks fout gesien nie. Die Vauxhall het daarna op volspoed weer so gemaak, skielik gebokspring, en die volgende oomblik het die linkerkantste agterwiel aan die regterkant van die motor verby geskiet. Ek het die kar genadiglik veilig van die pad gestuur en op ’n manier het ons die kar weer op sy vier wiele gekry min of meer betyds vir die repetisie op die kampus wat op die terrein van ‘n ou brouery in Braamfontein was. Dit was die begin van jare se heerlike musiek saam maak, en Andy het my grootste en langdurigste musiekvriend geword en gebly. Hy is nou die man agter die Innibos-fees in Nelspruit, en sy seun Murray is ’n hoogs begaafde musikant, sanger, verwerker, klankingenieur en musiekvervaardiger.

Clive Doubell, ‘n eerstejaarstudent in elektroniese ingenieurswese (lead-kitaar) het ook in daardie stadium lid geword. Hy het in Standerd 7 al in sy eerste band begin speel en is ’n uiters begaafde musikant wat benewens die lead- en baskitaar homself ook geleer het om “pedal steel-guitar” te speel. Sy instrument het hy op allerlei maniere met sy ingenieursvernuf en elektroniese kennis aangepas om nog meer te doen as wat die standaard pedaal-staalkitaar kan doen.‘n Senior student in Chemie, Jannie Pretorius, was as klawerbordspeler al voor my in die orkes. Dis seker nie moeilik om te verstaan dat ons nie van die naam Sterau gehou het nie. Toe ons op toer in Natal verby die afdraaipad na Hilton naby Pietermaritzburg gery het, het ons besluit dat dít die regte naam vir die groep was - Hilton. Ons het saamgestem dat dit beter sou wees om die Universiteit liewer nie oor die saak te raadpleeg nie. Andy en Dobbel onthou die gebeure wat tot die naamsverandering gelei het, anders. Volgens hulle het ons ’n telefoonboek oopgeslaan, en die eerste naam waarop ’n vinger gedruk is, was Hilton dalk die Hilton-hotel. Dalk is hulle reg, maar ek hou by my weergawe van die gebeure.

Ons toer langs die Natalse Suidkus het ons by tye soos rocksterre laat voel. Saam met ons op toer was ons “bestuurder” - ’n koshuisvriend Frenchie, oftewel Frans van Rensburg. Hy het meisies beïndruk deur te vertel dat hy vroeër die “lead guitarist” van Hilton was, maar dat hy nou uitgetree het en om hom met belangriker sake te bemoei die welstand en finansies van die orkes .

Op Scottburgh het ons die eerste aand vir ’n “session” by die woonwapark op Scottburgh gespeel. Ons was verstom toe mense van heinde en verre daar opdaag en tot in die oggendure op ons musiek dans ons was besig om beroemd te raak! Daar was eintlik te veel mense, en die arme saaltjie het uit sy nate gebars. Die volgende aand het ons in Margate opgetree, en nou het ons seker gemaak ons is reg vir die skares wat sou opdaag. Ons het die saal se venster met draad toegebind sodat mense nie deur die vensters kon klim en op die manier toegangsgeld ontduik nie. As ons enigsins die vorige aand groot koppe gekry het, is hulle sommer net daar weer afgeblaas: net ’n paar verdwaalde teeny boppers het opgedaag en toe hulle sien daar is nie ’n vibe nie, het hulle gou weer die pad gevat. Ons het maar ’n ruk aanhou speel, en toe bedroë ons instrumente opgepak en ’n paar biere gaan drink.

In Amanzimtoti het Andy, Jannie Pretorius, en ons bestuurder Frenchie besluit om in die hotel ’n kamer te huur wat hulle kon deel, maar Dobbel en ek was te platsak. Ons besluit toe om op die strand net buitekant die hotel in ons slaapsakke te slaap. Dobbie het bo-op die parkbankie gaan lê, en ek op die gras. Dié aand het hy my vertel van die veelbewoë loopbaan wat hy tot op daardie tydstip as musikant gehad het. Die verhale oor sy beproewinge het gegaan oor hoe daar altyd een outjie in die band was wat ‘n ryk pa gehad het, maar die vrotste musikant was. Die outjie het altyd die klanktoerusting gehad en moes noodgedwonge in die band bly . Die verhaal eindig dan telkens as ou Dobbie en een of twee van die ander orkeslede dan hulle kitare en amps, en natuurlik ook die pad vat.

Toe die stories uiteindelik uit was, het ons probeer slaap. Na ’n ruk het Dobbel gekla die bankie lê nie lekker nie en ons het plekke geruil. ‘n Halfuur later het ek ook besef die gras is eintlik ’n beter lêplek ten spyte van die moontlikheid van goggas. Ek het aan die slaap geraak, maar is baie gou deur ’n onaardse geluid wakker geruk. “? Whaus het my genêrts,” het Dobbel gegil. Tot vandag kon ek nog nie agterkom wat ’n “whaus” is of hoe die ding ’n mens “nêrts” nie. Die nag was lank. Die res van die toer het min of meer soos die eerste twee aande verloop - ons het afwisselend van die soet en die bitter kelk gedrink wat so tipies is van ’n kunstenaar se lewe. Nogtans was dit een van die lekkerste vakansies wat ek ooit in my lewe gehad het.

In Hilton het ons pop, lekker harde rock, en folk-rock gespeel en ons het regtig gedink ons is op pad na roem toe ons gevra word om vir ’n Jooldans by Tukkies te speel. Op die verhoog van die Rautenbachsaal op hulle kampus het ek probeer om ekstra cool te wees deur in ’n stadium op die naat van my rug te lê en baskitaar te speel. Vir ’n tyd lank is ons as amptelike orkes van die RAU verbied om op te tree ons musiek was te hard en het nie die gees en karakter van die universiteit verteenwoordig nie. Daarby is genoem dat ons sommer so goedsmoeds ons naam eensydiglik na Hilton verander het. As ek nou daaraan dink wàs ons musiek onhebbelik hard, maar natuurlik het ons toe beter geweet.

Ons was groot bewonderaars van Crosby, Stills, Nash and Young (CSNY) wie se vokaal-harmoniese folk-rock ons graag gesing het. ’n Baie harde rock-weergawe van “If I were a carpenter” en Andy se “Unchained melody” was uiters gewild onder gehore. Andy sou “If I were a carpenter” kliphard in die mikrofoon skreeu maar net daarna in ’n soet, sagte, melodieuse stem “Unchained melody” sing. Die afwisseling van die verskillende style was waarskynlik een van ons sterkste eienskappe. Die lekkerste oomblikke was wanneer ons CSNY se epiese “Suite: Judy blue eyes” gesing het. Die eerste keer was ons heeltemal onkant gevang, want ons kon nie glo dat mense op ‘n dansbaan stil gaan staan het om na ons te luister nie.

Morg en ek het intussen al hoe meer saam gesing nadat Bert graad gevang het en uit die koshuis is. Al die lekker harmonieë in Hilton het daartoe gelei dat Andy ook saam begin sing het, en ons het onsself Trilogie genoem. Toe Clive (Dobbel) ook kom saam speel en sing het - kontrabas en kitaar het ons hom dadelik ook lid van die groep gemaak, maar ons het besluit om die naam Trilogie te behou al was ons nou vier. My vriend - die sanger, liedjieskrywer en mediaman - Coenie de Villiers spot steeds dat ons nie te sleg gesing het nie, maar dat ons glad nie kon tel nie. Ons het begin om ons eie Afrikaanse liedjies te skryf en te sing. My eerste poging in die rigting was “Rosa rosarum”, ’n gedig van AG Visser, wat ek in standerd twee op Grootvlei geleer het.

Trilogie het benewens die liedjies van CSNY ook Bob Dylan, Cat Stevens, Simon and Garfunkel, Donovan en ander eietydse en tradisionele folk saam met ons eie liedjies gesing. Natuurlik het ons die klanke en tegnieke van die Engelse folkmusiek probeer toepas op ons eie komposisies en verwerkings, en verskillende style het in ons Afrikaanse liedjies weerklank gevind. Omdat nie een van ons literêre aspirasies of ’n hoë dunk van ons vermoë om liriek te skryf gehad het nie, het ons eers heelwat toonsettings van gedigte gedoen, sodat ons hopelik aan die teks-kant veilig sou wees. Mettertyd sou ons ook ons hande aan ons eie tekste waag.

Teen 1973 was Trilogie goed gevestig met Morg as hoofsanger; Andy op kitaar, banjo, en dikwels as solosanger met die hoogste harmonie vir hom gereserveer; Dobbel op akoestiese, elektriese en pedaal staalkitaar, baskitaar, kontrabas en veral bas-harmonieë. Ek het kitaar en ‘n bietjie klavier gespeel, verder harmonieë en soms ’n solo gesing. Ons het almal saam en afsonderlik skeppende bydraes gelewer, en ons oorspronklike liedjies was bykans uitsluitlik in Afrikaans. Tipies van studente het ons baie ure aan musiek eerder as aan studies afgestaan, en mettertyd ontwikkel tot ’n goed afgeronde instrumentale en vokale eenheid.

Ons het ons radiodebuut op die program Studentevaria gemaak. Dit is destyds deur Sarel Myburgh vir die Afrikaanse diens van Radio Suid-Afrika aangebied. Ons het goeie resensies van die media gekry, maar dit was gou duidelik dat ons musiek maak vir ’n nis-gehoor. Ons het probeer om ’n meer gesofistikeerde aanslag te volg wat betref teks en musiek en dit het nogal afgewyk van die soort musiek wat destyds aan die orde van die dag was. Oor die algemeen was daar in die Afrikaanse musiek van daardie tyd baie eenselwigheid wat musiek, akkoorde en lirieke betref. Die resep vir ’n verwerking was vasgestel en as ’n mens daarvan afgewyk het, was daar nie aanvaarding by die platemaatskappye nie. Tog was ons gewild onder studentegehore, en het geleidelik buite die universiteitsmilieu ook ’n aanhang gekry.

In 1975 het Peter Lotis van Gallo Musiek ons “raakgesien” en ons eerste solusseweplaat, Anitalief, het die lig gesien. Die titelsnit was ’n toonsetting van ’n AG Visser-gedig en die tweede liedjie was ons eie komposisie, “Maanligaand”. Die verwerking is gedoen deur Zane Cronjé, een van die voorste verwerkers van daardie jare. Danksy dié plaatjie is Trilogie met die eerste proefuitsendings van die Suid-Afrikaanse televisiediens gereeld op televisie gesien. In die eerste twee jaar is daar saans vir net sowat twee uur lank uitgesaai. Ons het ook in 1975 deelgeneem aan die ATKV Crescendo-kompetisie en ons afdeling - vir eie komposisies - gewen.

Ons was die eerste groep studente wat as inwoners van Dromedaris ernstig was oor musiek, en ek glo ons het ‘n tradisie help vestig. In my tyd het ons die RAU-sangfees en baie dikwels Eerstejaarskonsert-kompetisies gewen en daar het geleidelik ’n al sterker kultuur van saamsing, deelname aan kompetisie ontstaan. Rondom die negentigs was Duodecim dit beteken Twaalf - die a capellagroep van Drom, wat deur die jare al hoe meer afgerond geword het. In 2002 het hulle ‘n paar keer saam met my opgetree, en vertel dat hulle besluit het om ’n professionele sanggroep te word. Ek het maar my bedenkinge gehad omdat koshuisgroepe gewoonlik kort na die universiteitsjare uitmekaar spat, maar hulle was uiters toegewyd en vasberade. Hulle het die naam Navi Redd gekies, die saak baie professioneel aangepak en het groot welslae behaal.

Trilogie het met van die voorste Afrikaanse kultuurmense van die tyd skouers geskuur onder andere toe ons genader is om deel te neem aan ’n aanbieding in die Johannesburgse Stadskouburg, wat Die Afrikaanse Kabaret genoem is. Dit was ’n interessante hutspot van stories, voordrag en sang. Die regisseur was die vermaarde Truida Pohl weduwee van NP van Wyk-Louw en suster van die formidabele aktrise en drama-dosent, prof Anna Neethling-Pohl. Ta’ Anna was saam met haar broer Jan Pohl, Jan Spies, Hannes Horne, Milla Louw, Marie Tredoux en Trilogie op die verhoog. Toe ons by die eerste repetisie my toonsetting van “Rosa Rosarum” van AG Visser sing, het Ta’ Truida gevra wie ons liedjies skryf. Toe sy hoor ons skryf self, was haar reaksie ’n enkele woord: “Né.” Dit het vir my positief geklink.

Ons het ’n groter rol gespeel in die aanbieding Moenie skiet nie, dis ons mense, wat in 1975 deur RAU-studente aangebied is vir die opening van die ouditorium op die kampus. Trilogie het ’n kort skets gedoen waarin tong-in-die-kies gekyk is na Afrikaanse musiek en hoe dit destyds daar uitgesien het. My bydraes was ’n tipiese tranetrekker in die Country-styl getitel “Ballade van ’n tronkvoël” (. . . skryf vir my ’n briefie op my toebroodjiepapier so fnuik ons die sipier met die boodskap wat jy stuur), en ’n vertaling van “Cry to me”. Die liedjie was in Suid-Afrika bekend danksy die groep Staccato se weergawe daarvan. Ek het my vertaling “Huil by my” genoem. Daarmee het ek my misnoeë te kenne te gee met die tipiese swak letterlike vertalings van oorsese liedjies wat groot treffers geword het. Ek het al die ergste stene des aanstoots wat in die vertaalde treffers van dié tyd te hore was in ‘n gebaar van wraak ingebou. Ek het in die geaffekteerde aksent wat destyds deel van die standaardpakket was, gesing. Die lied was jare lank deel van ‘n heel vermaaklike verhoogskets oor Afrikaanse musiek.

In 1975 het Suid-Afrika op ’n manier deel van die groter internasionale kuns- en vermaakwêreld geword toe SATV met toetsuitsendings begin het, en ons solus sewe-plaatjie Anitalief het sonder twyfel aandag getrek. Kortom - ons was nuus en in die eerste twee jaar van televisie-uitsendings was ons twaalf keer op TV en ons het positiewe resensies van die media gekry.

In 1975 is ons genooi om een Saterdag by die landbouskou op Lichtenburgh te gaan optree. Ons het die instrumente in ons vriend, en Trilogie se selfaangestelde bestuurder, Gert Swiegers, se bakkie gelaai. (Terloops julle, ek het Gert se seun Jan-Hendrik in Murraysburg ontmoet. Gert is seker al naby aan tien jaar gelede oorlede.) By die skou aangekom het ons moedeloos besef dat ons in ’n tent sou moes optree. Dit was nie die mees geskikte ruimte vir ons relatiewe sagte folk-aanslag nie. Ons het darem uiteindelik min of meer ’n klankbalans gekry, maar Trilogie was nog relatief onbekend en ’n rukkie voordat ons vertoning moes begin, was daar bykans niemand in die tent nie. Anitalief het gereed gelê om verkoop te word. Gert het die plaat oor die interkom laat speel en ’n aankondiging is gemaak dat ons sou optree. Kort daarna het die mense begin opdaag en seremoniemeester Gert het trots gekonstateer dat Trilogie nou gaan sing. In plaas daarvan het ons vliegtuie hoor aankom en ‘n swerm valskermspringers het oor die terrein neergedaal. Binne sekondes was die tent nog leër as toe ons daar aangekom het, toe gaan kyk ons ook maar hoe land die valskerms.....

Gert het weer ’n plan gemaak. Hy het gereël dat ons in die uitsaaihokkie sing sodat almal op die skouterrein teen wil en dank oor die antieke interkomstelsel na ons kon luister. Ons is aangekondig en ons eerste note het die lug deurklief. Maar die einde was byna vinniger as die vorige keer. Die destydse staatspresident, John Vorster, het die skou se hoofgebou binnegekom en was op pad na die uitsaaihokkie toe om ’n toespraak te lewer. Ons is robuust deur sy lyfwagte uit die hokkie geboender om vir hom plek te maak by die mikrofoon. Teen die trap, op pad ondertoe, het dit gevoel soos tonele uit ’n fliek waar ’n klein groepie Duitse soldate streng en flink so half teen ’n afdraande af marsjeer te vinnig om meer as net die geknars van die stewels te hoor en die vasberadenheid op een of twee gesigte te kan sien oom John was met die trappe op pad boontoe.

Dit het laat begin word, en ons moes die aand aan die eindrondte van Crescendo in Johannesburg gaan deelneem. Dit het gelyk asof die feesorganiseerder sy voete sleep met die betalery. Gert het hom nie laat afskrik nie, en die man op ‘n begeleide toer deur die stalletjies geneem. Hy moes onder druk van Gert die kontant vir ons optrede by die pannekoek- en ander stalletjies bymekaar te kry. Ons het met ’n private vliegtuigie teruggevlieg Johannesburg toe om solank met ‘n klankbalans in die Stadskouburg te begin. Gert het met die kontrabas en ander toerusting wat nie in die vliegtuigie kon saam nie met die bakkie teruggejaag.

In Johannesburg aangekom het ons begin om ’n klankbalans vir die stemme en kitare te doen. Die teater het ’n stelsel van meer as een verhoog gebruik. Die verskillende verhoë kon op rollerwiele na en van die hoofverhoog geskuif word. Na ons klanktoets is ons verhogie na die regterkant van die verhoog getrek. Ons klankkabels het om een of ander rede verkeerd gelê en toe die ander groep, wat voor ons sou optree, se verhoog opgetrek word, is ons kabels soos spaghetti versnipper.

Daar was geen alternatief nie, en ons moes noodgedwonge gebruik maak van die toerusting wat vir die ander groep opgestel is al het die balans, die aantal instrumente en die aantal stemme nie ooreengestem nie. In ’n stadium het Dobbel met kontrabas se een snaar te naby aan sy mikrofoon gekom en dit het geklink asof een van ons ’n wind opgebreek het. Ons was nie die wenners van Crescendo 1975 nie, maar ons kon onsself daaraan troos dat ons ‘n paar goeie verskonings gehad het. Om die dag af te rond het iemand heel aan die einde van die aand per abuis Andy se banjo-kassie, wat teen Gert se bakkie gestaan en wag het om ingelaai te word, ook nog omgestamp en die instrumentjie het gebreek.

Van Trilogie se lekkerste ervarings was ons gereelde optredes by die folkklub Mangles in Braamfontein. Die eienaar was Dave Marks van Master Jack-faam. Musikante het Engelse en Ierse tradisionele folk-musiek gemaak, en die plaaslike folkhelde soos Colin Shapiro, Colin Shamley, John Oakley-Smith, Paul Clingman, en Edi Niederlander was ook gereeld daar. Ons het gehore getrakteer op ons akoestiese weergawes van Crosby, Stills, Nash and Young en ander bekende folk van die tyd, en hulle dan verras met ons eie Afrikaanse liedjies. Daar het ek vir die eerste keer gehoor hoe Engelssprekendes sê: “I didn’t know that Afrikaans could sound like that!” Ek het dié woorde later weer in die Markteater gehoor tydens ’n vertoning van Clarabelle van Niekerk en Louis van Rensburg, daarna in ’n ateljee in die Kaap toe Coenie sy eerste album opgeneem het, en deur die jare telkens weer wanneer Afrikaanse kunstenaars na vore gekom het wat wegbeweeg het van die geykte Afrikaanse “treffer”-klanke. Ek glo dat fynproewers vir jare lank hulle neuse opgetrek vir Afrikaanse musiek as gevolg van die geykte formules wat vir dekades slaafs gevolg is.

Nadat ons graad gevang het, het Morg, Dobbel en ek in 1976 saam met ander nagraadse studente by Streatleylaan 9, Aucklandpark ingetrek. Die ou herehuis het uit die vroeë jare van die twintigste eeu gedateer en was wit geverf. Ek het voorgestel ons doop dit Die Withuis en dit is hoe dit tot in 2009, toe dit gesloop is, bekend was. Andy was ’n student aan die destydse Hotelskool en hoewel hy amptelik elders gewoon het, het hy gereeld in die Withuis oornag. Daar was altyd iewers ’n lêplek vir hom en hier het ons - bevry van die koshuislewe - nog meer tyd gehad om saam te oefen.

Ons tweede plaat, Droom langs stille waters, is in die jaar vir EMI opgeneem en die briljante Johnny Boshoff het die verwerking gedoen. Die titelsnit asook Seisoene saam met jou, op Kant B, was ons eie komposisies. Ernie Schröder van EMI het genoeg van Droom lang stille waters gehou om dit vir die jaarlikse internasionale American Song Festival in te skryf. Dit was die enigste Afrikaanse liedjie uit die honderd Suid-Afrikaanse inskrywings van daardie jaar. Maar, dit was ook die enigste van die Suid-Afrikaanse inskrywings wat daardie jaar enige sukses behaal het. Ons het voor die tyd geen idee gehad wat die American Song Festival was nie, maar dit was fantasties om te dink dat ons as onbekende groepie so iets kon regkry. Ons het ’n ‘honorary mention prize” gewen ’n volle 50 Amerikaanse dollar. Die Rand was destyds sterk en in randterme was dit, as ek reg onthou, sowat R46 net genoeg om ’n braaivleis te kon hou. Ons gaste was Sonja Herholdt en haar man, FC Hamman. Sonja was reeds bekend danksy haar liedjie “Ek verlang na jou”. Hulle was destyds ons tydgenote wat aan die Goudstadse Onderwyskollege in Johannesburg studeer het.

Ons het in 1976 weer ons afdeling van Crescendo gewen, en Anton Goosen, wat destyds musiekskrywer vir onder andere Huisgenoot was, het ’n dubbelblad-artikel oor ons geplaas. Dit was wonderlike publisiteit, maar ons het besef ons maak nie die soort musiek wat in die massa se smaak val nie. Die amptelike verkoopstate van altwee ons plaatjies het ’n nul-opgawe gereflekteer.

Toe Andy en Morg in 1977 uit Johannesburg wegtrek, het Trilogie se pad doodgeloop.

agterlaas bnb
thewebman.co.za