Jannie du Toit beplan om sy nuwe produksie getitel OPPIEKITAAR op 25 Junie 2023 in die Atterburyteater in samewerking met Pretoria FM bekend te stel.
Hy bied die program aan in die formaat waarin die luisterpubliek hom in die laat sewentigerjare vir die eerste keer as solo-sanger leer ken het. Gedurende die vroeë sewentigs was hy lid van die Afrikaanse folk-groep TRILOGIE, en later in dié dekade meesal net met sy kitaar op die verhoog, soms ook vir 'n paar liedjies by die klavier. Hy was in die Laager van die Markteater in Pretoria sedert die heel eerste MUSIEK ENLIRIEK-konsert in April 1979 en ook by sy "Liedjie-aande" in Margaretastraat in Pretoria – en hy het uitsluitlik sy eie liedjies so gesing.
Ondertussen het hy hom met uiteenlopende musiek besig gehou. Hy het verwerkings vir ‘n groot orkes as begeleiding vir sy musiekblyspele in die 80’s geskryf, jare lank saam met Christa Steyn by die klavier musiek gemaak in kabaret en ander genres en selfs koorverwerkings vir liedjies soos GEE ONS VREDE geskryf. Oor die afgelope dekade werk hy saam met ander instrumentaliste en sangers in ‘n verskeidenheid produksies wat steeds aangebied word.
Sy program OPPIEKITAAR bied hy egter weer soos in die sewentigs net met die kitaar aan. Dié program is 'n keur uit die talle liedjies wat hy oor die afgelope halfeeu geskryf het. Dit is 'n verrassend wye verskeidenheid van meer en minder bekende liedjies waarin vrolikheid en nostalgie afgewissel word. Sy liedkuns word deur die jare gekenmerk deur keurige tekste, vindingryke akkoordgebruik en, nou meer as ooit tevore, deur sy bedrewenheid op die kitaar. Sy liedjies is gemik op die fynproewer, maar soos 'N LIEDJIE VIR JOU van 1978 reeds bewys het, lê daardie woorde en akkoorde lekker op die "gewone" oor.
Baie opgewonde oor sy nuwe verhoogproduksie – OPPIEKITAAR – waarmee Jannie du Toit op 25 Junie 2023 in die Atterbury Teater in samewerking met PRETORIA FM debuteer - vertel hy soos volg oor sy kitare:
Anders as die meeste kitaarspelers wat ek ken, het ek oor die afgelope vyftig jaar net vyf akoestiese staalsnaar-kitare besit, en selfs nie ‘n enkele nylonsnaar nie:
1) In 1967 het ek saam met my vriend Dewald Meyer, oftewel Teddy, die bus van Menlopark af stad toe gevat en vir sewe Rand ‘n blou No name brand kitaar by Metro Cycle House in Kerkstraat gekoop. Syne was ‘n bruine van dieselfde maak, maar die ding wou nie in stemming bly nie – die instelknoppies het terug gegly en dit het Teddy se moed gebreek. My eerste treë met dié kitaar en die reuk van die hout wat by die klankholte uitgekom het, sal ek nooit vergeet nie. Ek het al baie keer gewonder wat sou gebeur het as dit andersom was en Teddy die goeie een gekry het – sou ek bereid wees om nóg ‘n fortuin uit te haal vir ‘n ander kitaar? Ek vermoed nogal so. Ons het nie daaraan gedink dat hy maar net sy kitaar moes gaan omruil het vir ‘n ander een nie.
2) Vier jaar later, aan die einde van my diensplig het my swaer Hoffie die volgende kitaar by die Hofner-fabriek in Duitsland gekoop – die fabriek het ‘n pick-up in die lieflike Hofner Jumbo-twaalfsnaar ingebou. My soldy in die Lugmag was die eerste helfte van die jaar R7,00 per maand en vir die tweede helfte R32,00. Danksy sobere gewoontes het ek aan die einde van die jaar R90,00 opgespaar gehad – net mooi genoeg om die Hofner te koop. Hierdie Hofner het my deur die jare met Trilogie (ons folk-groep van die sewentigs) getrou gedien, behalwe dat ek binne ‘n kort tydjie ses van die twaalf snare afgehaal het: ‘n mens word nogal gou moeg vir die wonderlike vol klank van die twaalfsnaar as jy heeltyd op hom speel.
3) Rondom 1976 breek ek per ongeluk my Trilogie-kollega Andy Lubbe se Gibson, en ek koop vir hom ‘n nuwe een. Ek laat die stukkende Gibson se nek gelukkig baie suksesvol regmaak en gebruik dié lieflike kitaar vir baie jare – die ou Hofner het vandag nog ‘n ereplek in ons huis maar die opgradering na die Gibson toe was baie tydig. Die Gibson was die eerste kitaar waarmee ek as solokunstenaar op die verhoog gestap het.
4) In Klerksdorp word die Gibson gesteel toe ek en Christa Steyn êrens in die middel- negentigerjare een aand daar opgetree het. Mauritz Lotz het my aangeraai om ‘n Takamini moet koop en ek het dié kitaar ook vir baie jare geweldig geniet.
5) Soos die arme Teddy in 1967 sukkel ek later al hoe meer om die Takamini in stemming te laat bly, en besluit dat ek ‘n ander plan moet maak. Christa se seun Douw Steyn gaan rondom 2013 saam met my en ons koop elkeen ‘n kitaar waarvan nie een van ons geweet het voordat ons daardie dag in die musiekwinkel hier in Johannesburg ingestap het nie: dié Breedlove word die vyfde kitaar van my loopbaan. Hierdie kitaar is vir my onverbeterlik en ek kry sedertdien oral komplimente vir die ryk, warm klanke wat voortgebring word. Met die gevoel van die kitaar in my hande en sy snare onder my vingers is ek oortuig dat ons nog ‘n lang pad saam gaan loop.
Jannie kan hier gekontak word:
Optredes:
+27 72 460 5568
Media:
+27 72 460 5568
Jannie
+27 82 410 4046