Jannie se Optredes

Optrede Dagboek

Daar word gereeld konserte deur Jannie aangebied.
Vir meer detail oor beplande, huidige en vorige konserte, asook hoe en waar kaartjies bespreek kan word

LEES HIER ->

Jannie se produksies beskikbaar vir optredes

Die volgende produksies is tans beskikbaar vir optredes:

(Kliek op name hieronder vir meer inligting)

  • Ramkietjie

    Ramkietjie is ’n huldeblyk aan die rykdom van die FAK Sangbundel – ‘n skatkis van tradisionele en ander Afrikaanse liedjies wat geslagte lank gesinne, musiekleerlinge en kunstenaars begelei het.

    Van die bekende “Op my ou ramkietjie” en “Die Magaliesburgse Aandlied” tot die poëtiese “Ou Musikant” en “Die Mannetjie”. Volgens Jannie het hy hierdie keuses gemaak op grond van persoonlike verbintenis en artistieke waarde. “Sommige van die ou liedjies het ’n nostalgiese konnotasie – ek ken hulle van kindsbeen af. Ander, soos Jan Pohl en Danie Bosman en ander meer onlangse liedjieskrywers se werk, het ’n besondere digterlike kwaliteit en sintese tussen taal en musiek.”

    Die program sluit ook geliefde, meer onlangse, liedjies van Lucas Maree, David Kramer, Koos Doep, Anton Goosen, Louis van Rensburg en Johannes Kerkorrel in. Ramkietjie is Jannie se vlagskipproduksie vir 2026 en bring bekende liedere, stories en nostalgie op ’n eg Suid-Afrikaanse manier na gehore regoor die land.

    Dis ’n besondere musiekervaring wat vanaf 29 Mei 2026 landwyd op toer is ter viering van Afrikaans se ryk musiekerfenis en Jannie se merkwaardige 55 jaar op die professionele verhoog.

    Jannie word in die program RAMKIETJIE van tyd tot tyd begelei deur die pianiste Johan Heystek en Chanie Jonker en soms sluit die tjelliste Susan Mouton, Rina Schutte en Graham du Plessis by hulle aan. Die verhoogproduksie het voortgevloei uit die album OP MY OU RAMKIETJIE wat Jannie in 2025 opgeneem het.

    oppiekitaar - jannie du toit
  • Oppiekitaar

    Jannie het sy produksie getitel OPPIEKITAAR in 2023 in die Atterburyteater in Pretoria bekend te stel. Hy bied die program aan in die formaat waarin die luisterpubliek hom in die laat sewentigerjare vir die eerste keer as solo-sanger leer ken het.

    Gedurende die vroeë sewentigs was hy lid van die Afrikaanse folk-groep TRILOGIE, en later in dié dekade meesal net met sy kitaar op die verhoog, soms ook vir 'n paar liedjies by die klavier.

    Hy was in die Laager van die Markteater in Pretoria sedert die heel eerste MUSIEK EN LIRIEK-konsert in April 1979 , ook by sy "Liedjie-aande" in Margaretastraat in Pretoria – en hy het uitsluitlik sy eie liedjies gesing.

    Ondertussen het hy hom met uiteenlopende musiek besig gehou. Hy het verwerkings vir ‘n groot orkes as begeleiding vir sy musiekblyspele in die 80’s geskryf, jare lank saam met Christa Steyn by die klavier musiek gemaak in kabaret en ander genres en selfs koorverwerkings vir liedjies soos GEE ONS VREDE geskryf. Oor die afgelope dekade werk hy saam met ander instrumentaliste en sangers in ‘n verskeidenheid produksies wat steeds aangebied word.

    Sy program OPPIEKITAAR bied hy egter weer soos in die sewentigs net met die kitaar aan. Dié program is 'n keur uit die talle liedjies wat hy oor die afgelope halfeeu geskryf het. Dit is 'n verrassend wye verskeidenheid van meer en minder bekende liedjies waarin vrolikheid en nostalgie afgewissel word. Sy liedkuns word deur die jare gekenmerk deur keurige tekste, vindingryke akkoordgebruik en, nou meer as ooit tevore, deur sy bedrewenheid op die kitaar. Sy liedjies is gemik op die fynproewer, maar soos 'N LIEDJIE VIR JOU van 1978 reeds bewys het, lê daardie woorde en akkoorde lekker op die "gewone" oor.

    oppiekitaar - jannie du toit
  • de wals van de liefde

    Dit is nou veertig jaar gelede dat Jannie du Toit die eerste keer ’n Nederlandstalige liedjie op die Staatsteater in Pretoria se verhoog gesing het en dertig jaar nadat Christa Steyn en hy DE KLEINE MAN by die heel eerste KKNK in Oudtshoorn aangebied het. “DE WALS VAN DE LIEFDE” van die gevierde Nederlandse sanger, Toon Hermans, is die titellied van sy nuwe program bestaande uit sy persoonlike gunstelinge van die Nederlandstalige kleinkuns van die twintigste eeu. Jannie het van altyd af besondere aanklank by dié musiek gevind en dit het sy musiek en loopbaan ingrypend beïnvloed.

    Daar is altyd versoeke vir sy “Hollandse” liedjies: “Madeleine” en “Marieke” van Brel, dié van sy vriende Jules de Corte en Robert Long, asook Herman van Veen en Urbanus. Tien jaar gelede het hy saam met die Nederlandse klaviervirtuoos, Bert van den Brink, op ‘n maandlange toer in Nederland ‘n volledige program bestaande uit liedjies van De Corte in Nederland aangebied – GRENZELOOS NEDERLANDS Musiekliefhebbers kry nou die geleentheid om al Jannie se “toppers”, soos die Nederlanders sê, in een program te hoor.

    Te sien saam met Jannie en sy kitaar is Marcel Dednam (klavier) en Deryn Dednam (altsaxofoon)

    de wals van de liefde - jannie du toit
  • Margaretastraat

    Jannie du Toit du Toit herleef die legendariese liedjie-aande van 1981 en ‘82 by Margaretastraat 28, Riverdale, Pretoria. Na dié aande in sy huis word daar deur die jare dikwels in artikels, proefskrifte, dokumentêre programme en op verhoë verwys. Lucas Maree het meermale vertel hoe een besondere liedjie-aand en die kunstenaars wat hy daar gehoor het, hom geïnspireer het om onverwyld in Afrikaans te begin skryf en sing.

    Jannie gesels oor daardie ikoniese jare van die einde sewentigs en vroeë tagtigs se “Musiek en liriek”. Hy kleur die verhaal in met die musiek van die liedjie-aande: staatmakers Koos Doep, Lucas, Coenie de Villiers, Anneli van Rooyen, Janita Claassen, Marietjie Stoop asook ’n paar minder bekende sangers en teksskrywers. Andy Lubbe, wat die liedjie-aande saam met Jannie begin het, en hulle sewentigs-folkgroep, Trilogie, was ook gereelde bydraers. Hy vertel die hele storie en sing liedjies – ook van sy eie – wat dikwels vir die eerste keer by Margaretastraat 28 gehoor is. Hy gee ook perspektief op die rolspelers en die bydraes wat hulle gelewer het.

    Saam met Jannie en sy kitaar op die verhoog is die pianis, verwerker en musiekregisseur Chanie Jonker, wat hom reeds die afgelope dekade gereeld begelei.

    margerethastraat - jannie du toit
  • DIE MAAN DEUR ’N GAATJIE IN DIE NAG

    Jannie se nuwe produksie met die liedjies van die legendariese Marie Tredoux van Jacobsbaai aan die Weskus, dra die naam van een van Marie se mooiste liedjies, waarvan die teks deur haar oorlede wederhelf, Nic Tredoux, geskryf is: Die Maan deur ’n gaatjie in die nag.

    Gedurende Jannie se Desember 2020 toer word Jannie begelei deur Chanie Jonker (klavier en akkordeon) en Annelie du Plessis-Hoberg (fluit en ‘n paar ander instrumente, soos die trompie). Die enigmatiese Dana Snyman - 'n baie goeie vriend van Marie Tredoux wat ook op Jacobsbaai woon - dra tot die produksie by met stukkies prosa wat as bindteks op die verhoog gebruik word. Hy was op 4 September - Marie se 91ste geboortedagherdenking by haar aan huis - en het daar en dan besluit dat dit sy verjaarsdaggeskenk aan haar sal wees. Die logo is geteken deur die vermaarde illustrasiekunstenaar, Piet Grobler - 'n groot vriend van Jannie en bewonderaar van Marie se liedjiekuns. Jannie sluit ook enkele van sy eie liedjies by die program in. Die hoogtepunt van die toer is natuurlik ‘n optrede in Jacobsbaai, vroeg Desember 2020.

    Saam met Jannie op die verhoog is Chanie Jonker (klavier en akkordeon) en Annelie du Plessis-Hoberg (fluit).

    die maan deur 'n gaaitjie in die nag
  • BONJOUR MONSIEUR BREL

    Jannie sing Jacques Brel se beeldryke tekste in vier tale – Frans, Afrikaans, Engels en Nederlands begelei deur ’n musiekensemble van klavier, tjello en kitaar. Brel se liedkuns sal nog vir ’n lang tyd telkens weer nuut geïnterpreteer en beluister word. In hierdie program kom sy genialiteit ewe sterk na vore in al vier tale – ’n getuigskrif vir die ongeëwenaarde seggingskrag van die grootste chansonnier van die 20ste eeu.

    Jannie sing Jacques Brel
  • DOEP IS NIE DOOD NIE

    'n Eenman-aanbieding met teks- en musiekgrepe oor die lewensbeskouing en werk van Koos du Plessis.

    Dertig jaar na sy afsterwe, word dit in hierdie verhoogproduksie duidelik hoe lewend en toepaslik sy siening van die lewe steeds bly, hoe treffend sy liedkuns. Jannie du Toit, 'n groot vriend van Du Plessis, sit hiermee sy werk voort om Koos se musiek by 'n volgende geslag te laat voortleef.

    doep is nie dood nie - jannie du toit
  • DIE EGGO VAN JOU OË

    Jannie du Toit en Susan Mouton verf met die wonderlike klankkleure wat die kombinasie van tjello, kitaar en stem kan bied. Hulle bekoor met Jannie se eie liedjies, maar ook met gunstelinge uit sy jeugjare soos die Afrikaanse kunslied, pop- en folk uit die sestiger- en sewentigerjarejare. Daarby kom werk van sy Afrikaanse en Nederlandse kollega’s maar ook musiekhelde soos die kabaretmeester Jacques Brel en enkele instrumentale werke vir tjello en kitaar wat verder sorg vir merkwaardige verskeidenheid.

    die eggo van jou oë - jannie du toit
  • IN KERSFEESTYD

    Jannie bied jaarliks ’n Kersprogram aan waarin drie sangers van Renette Bouwer se Universiteit Johannesburg koor saam met hom sing. Gabby, Sizwe en Sandile staan ook bekend as die sanggroep Breathe. Die begeleiding word waargeneem deur Susan Mouton, Jannie se gereelde tjellis en Chanie Jonker wat gereeld as pianis vir hom optree.

    Die program sluit in Koos du Plessis se Gebed en Somerkersfees, liedere soos Pie Jesu en Gee ons Vrede, asook ander bekende geestelike liedere en skrifberymings deur Jannie en Christa Steyn.

    Daar is benewens die begeleide werk ook a capella-sang en die program word meesal ingeskakel by die boodskap van die leraar tydens 'n erediens. Die program kan egter ook as ‘n alleenstaande Kerskonsert aangebied word.

    in kersfeestyd - jannie du toit

Einde van gewilde verhoogproduksie:

Ons moet die einde van een van Jannie se verhoogproduksies met leedwese aankondig:
KIEKIES – LUCAS SE LIEDJIES

Placeholder Picture

Sedert 2016 was bogenoemde program deel van Jannie se aanbod:
Lucas Maree se liedjies met Jannie (kitaar en sang) en Thean Kotze (kitaar, baskitaar, tromme en sang). Lucas het as liedkunstenaar min gelykes in Afrikaans. Jannie en Thean herontdek sy verbeeldingryke kyk na die lewe en laat die gehoor met persoonlike anekdotes iets beleef van sy uitsonderlike menslikheid en kreatiewe gees.

Op Sondagaand 2 Augustus 2026 skryf Jannie die volgende op sy Facebook blad:

Ek het baie hartseer nuus oor my vriend en medekunstenaar in ‘n verhoogproduksie wat die afgelope tien jaar op die verhoog was - Thean Kotzé:
In 2015 het Coenie de Villiers vir my gesê dat Thean Kotzé net so ernstig as ek daaroor was om ’n program ter ere van my ou vriend Lucas Maree op die planke te bring. Ek het net geweet dat Thean saam met sy vriend Abrie van der Westhuizen die vokale duo LIMPOPO uitgemaak het en dat hy ’n stigtende lid van SES SNARE was. Min het ek geweet dat Thean ’n ewe groot bewonderaar van my vriend Lucas as ekself was. Belangriker nog, ek het nie geweet dat hy Lucas se moeilikste liedjies perfek op die kitaar kon speel en dat hy ’n towenaar met sy stem was nie. Thean was maar altyd ’n rocker, hy was ’n skitterende folk-kitaarspeler en sanger, maar glo dit as julle wil – hy het nog opera-opleiding ook gehad. Die eindresultaat was dat ek, wat vroeër jare dikwels saam met Lucas gesing het, oor en oor hoendervleis gekry het wanneer Thean kitaar gespeel en sy harmonie of ’n solo hier langs my begin sing het. Die eerste paar kere het ek my kop letterlik verstom na hom toe gedraai – hy kon dit regkry om selfs Lucas se stemtimbre ná te sing.
Tien jaar gelede het ons by die Woordfees gedebuteer met KIEKIES – LUCAS SE LIEDJIES en sedertdien het ons oneindige genot daaruit geput om dié program vol van Lucas se wysheid, humor en briljante kunstenaarskap landswyd aan te bied. Daar is ook ’n video-opname daarvan gemaak wat vyf jaar gelede uitgesaai is. Maar Thean is Vrydag ná ’n geweldige stryd met kanker oorlede. Dit gaan ’n groot gemis wees – vir my en vir sy groot vriendekring, om nie van Deirdré en die kinders te praat nie. Hy was ’n wonderlike gesinsman en die ideale man vir Deirdré, ’n lieflike pa vir die kinders.
Thean was ’n oortuigde, uitlewende Christen en was besig met teologiese studies. Hy het vroeër as musiekleier in ’n gemeente gedien en oor die afgelope paar jaar ’n huiskerk gelei vanuit sy en Deirdré se woning in Highlands North in Johannesburg. Toe die einde nader gekom het, het Thean vir my iets gesê wat ek nooit in my lewe sal vergeet nie. Hy het besef dat die kanker feitlik onomkeerbaar was en hy het gesê: “Ek staan nou op die randjie tussen die lewe en die Ewige Lewe.” Hy is nou sonder twyfel aan die ander kant en ek salueer jou, Thean – dankie vir ons onvergeetlike samewerking, jou onblusbare sin vir humor en lojale vriendskap.

GEEN Kunsmatige Intelligensie (AI) is gebruik met die maak van hierdie webblad nie.

Alles in hierdie webblad is eg, outentiek Jannie du Toit

link to thewebman