jannie SE OPTREDES

Daar word gereeld konserte deur Jannie aangebied. 

vir 'n Program van konserte wat huidig aangebied word.

Jannie is nog uiters aktief as sanger/verhoogkunstenaar en die volgende produksies word op die oomblik steeds van tyd tot tyd aangebied.

  • OESJAAR

    Jannie het homself oor die afgelope paar jaar daarop toegespits om musiek van sy gunsteling-musikante, soos Jacques Brel, Jules de Corte, Koos du Plessis en Lucas Maree te sing, maar het besluit dat dit weer tyd is om op sy eerste liefde en passie te fokus – naamlik om Afrikaanse liedjies te skryf en na die verhoog te bring. Die resultaat hiervan is ’n splinternuwe album: OESJAAR2018 – al die liedjies uit Jannie se pen en saam daarmee ’n “konsert” met dieselfde titel.

    In die verhoogproduksie vertel en sing Jannie oor sy musiekloopbaan: van die wingerd wat hy persent gekry het – “hierdie wingerd is my gawe, my pasella reg van bo, hierdie wingerd daag my uit om hard te werk en vas te glo”. Hy sing oor ’n geseënde oesjaar, oor die musieklegende Christa Steyn met wie hy 25 jaar saamgewerk het, oor ’n legendariese koffiewinkel in sy voorstad, Melville en oor die passie wat ’n kunstenaar dryf om nooit op te hou skep en sing nie. Die lied "Ons soek ’n tata" is opgedra aan een van sy grootste helde, Madiba en liedjies soos Skilder van die wolke en "Lig en donker" is egte credo’s waarin hy sy siel ontbloot. Jannie het ook ’n liefdeslied geskryf vir sy vrou Therina, met wie hy in die uitsonderlike goeie oesjaar getroud is: “Jy kyk sag”.

    In die verhoogproduksie voeg die tromspeler Theuns Botha hom by Jannie se gevestigde ensemble: Susan Mouton (tjello) en Chanie Jonker (klavier en akkordeon).

    Jannie du Toit
  • DIE MAAN DEUR ’N GAATJIE IN DIE NAG

    Jannie se nuwe produksie met die liedjies van die legendariese Marie Tredoux van Jacobsbaai aan die Weskus, dra die naam van een van Marie se mooiste liedjies, waarvan die teks deur haar oorlede wederhelf, Nic Tredoux, geskryf is: Die Maan deur ’n gaatjie in die nag.

    Gedurende Jannie se Desember 2020 toer word Jannie begelei deur Chanie Jonker (klavier en akkordeon) en Annelie du Plessis-Hoberg (fluit en ‘n paar ander instrumente, soos die trompie). Die enigmatiese Dana Snyman - 'n baie goeie vriend van Marie Tredoux wat ook op Jacobsbaai woon - dra tot die produksie by met stukkies prosa wat as bindteks op die verhoog gebruik word. Hy was op 4 September - Marie se 91ste geboortedagherdenking by haar aan huis - en het daar en dan besluit dat dit sy verjaarsdaggeskenk aan haar sal wees. Die logo is geteken deur die vermaarde illustrasiekunstenaar, Piet Grobler - 'n groot vriend van Jannie en bewonderaar van Marie se liedjiekuns. Jannie sluit ook enkele van sy eie liedjies by die program in. Die hoogtepunt van die toer is natuurlik ‘n optrede in Jacobsbaai, vroeg Desember 2020.

    Saam met Jannie op die verhoog is Chanie Jonker (klavier en akkordeon) en Annelie du Plessis-Hoberg (fluit).

    Jannie du Toit
  • BONJOUR MONSIEUR BREL

    Jannie sing Jacques Brel se beeldryke tekste in vier tale – Frans, Afrikaans, Engels en Nederlands begelei deur ’n musiekensemble van klavier, tjello en kitaar. Brel se liedkuns sal nog vir ’n lang tyd telkens weer nuut geïnterpreteer en beluister word. In hierdie program kom sy genialiteit ewe sterk na vore in al vier tale – ’n getuigskrif vir die ongeëwenaarde seggingskrag van die grootste chansonnier van die 20ste eeu.

    Jannie du Toit
  • DOEP IS NIE DOOD NIE

    'n Eenman-aanbieding met teks- en musiekgrepe oor die lewensbeskouing en werk van Koos du Plessis.

    Dertig jaar na sy afsterwe, word dit in hierdie verhoogproduksie duidelik hoe lewend en toepaslik sy siening van die lewe steeds bly, hoe treffend sy liedkuns. Jannie du Toit, 'n groot vriend van Du Plessis, sit hiermee sy werk voort om Koos se musiek by 'n volgende geslag te laat voortleef.

    Jannie du Toit
    Jannie du Toit
  • KIEKIES - LUCAS SE LIEDJIES

    Lucas Maree se liedjies met Jannie (kitaar en sang) en Thean Kotze (kitaar, baskitaar, tromme en sang). Lucas het as liedkunstenaar min gelykes in Afrikaans. Jannie en Thean herontdek sy verbeeldingryke kyk na die lewe en laat die gehoor met persoonlike anekdotes iets beleef van sy uitsonderlike menslikheid en kreatiewe gees.

    Jannie du Toit
  • DIE EGGO VAN JOU OË

    Jannie du Toit en Susan Mouton verf met die wonderlike klankkleure wat die kombinasie van tjello, kitaar en stem kan bied. Hulle bekoor met Jannie se eie liedjies, maar ook met gunstelinge uit sy jeugjare soos die Afrikaanse kunslied, pop- en folk uit die sestiger- en sewentigerjarejare. Daarby kom werk van sy Afrikaanse en Nederlandse kollega’s maar ook musiekhelde soos die kabaretmeester Jacques Brel en enkele instrumentale werke vir tjello en kitaar wat verder sorg vir merkwaardige verskeidenheid.

    Jannie du Toit
  • DIE CORDON BROERS SE KOSSÊRT

    Jannie du Toit, sang en kitaar en Lochner de Kock, kospraatjie/demonstrasie en sang. 'n Luister-en-proe-allegaartjie van formaat. Die gehoor word vermaak met kosdemonstrasies, anekdotes, wenke, staaltjies en musiek uit die twee kunstenaars se reise deur hulle kos- en musiekervarings.

    Lochner is jare lank reeds konsultant by Jannie se Agterplaas B&B waar hulle elke oggend gesellig met vriende uit die omgewing om die ontbyttafel kuier.

    Jannie du Toit
  • IN KERSFEESTYD

    Jannie bied jaarliks ’n Kersprogram aan waarin drie sangers van Renette Bouwer se Universiteit Johannesburg koor saam met hom sing. Gabby, Sizwe en Sandile staan ook bekend as die sanggroep Breathe. Die begeleiding word waargeneem deur Susan Mouton, Jannie se gereelde tjellis en Chanie Jonker wat gereeld as pianis vir hom optree.

    Die program sluit in Koos du Plessis se Gebed en Somerkersfees, liedere soos Pie Jesu en Gee ons Vrede, asook ander bekende geestelike liedere en skrifberymings deur Jannie en Christa Steyn.

    Daar is benewens die begeleide werk ook a capella-sang en die program word meesal ingeskakel by die boodskap van die leraar tydens 'n erediens. Die program kan egter ook as ‘n alleenstaande Kerskonsert aangebied word.

    Jannie du Toit

Lees ook die volgende ...

Kontak Jannie

Jannie kan hier gekontak word:

+27 72 460 5568

+27 72 460 5568

+27 82 410 4046

Volg Jannie
Belangrike skakels
Jannie du Toit